Kinders met outisme is as babas geneig om onbewus van ander mense se kom en gaan te wees, en dit lyk asof hulle in hulle eie wêreld is. As babas soek hulle nie die aandag van ander mense op deur geluide te maak, te huil, handgebare te gebruik of oogkontak te probeer maak nie. Hulle kan geneig wees om ekstreem op hulle eie te wees, is nie altyd bewus van ander mense nie en is nie geïnteresseerd in sosiale kontak met mense nie. Hulle kan aggressief raak, onttrek, skree of hulleself doelbewus beseer in ‘n poging om ander mense van hulle af weg te hou.
Kinders met outisme is geneig om min tot geen enkelwoorde voor 2-jarige ouderdom te gebruik nie. Hulle sal nie noodwendig met ander mense gesprekke voer nie en dit mag wees dat hulle spraak swak ontwikkel is, of glad nie ontwikkel het nie.
Hulle selfhelpvaardighede, soos tandeborsel, aantrek, hare kam ensomeer, is nie normaal ontwikkel van kleins af nie. Hulle raak intens omgekrap en mag selfs met woede of tantrums reageer indien hulle omgewing of roetine verander. Hulle wil ten alle koste hê dat dinge dieselfde moet bly en hou streng by hulle roetines, wat nie noodwendig altyd vir ander mense sin maak nie.
Kinders met outisme is nie noodwendig geïnteresseerd in, of nuuskierig oor hulle omgewing nie. Hulle kan dit baie moeilik vind om aan te pas by nuwe situasies. Leerprobleme kom gewoonlik voor, maar hulle kan in sekere areas sterk uitblink, alhoewel dit nie noodwendig met almal die geval is nie. Gewoonlik kan meeste kinders met outisme nie in hoofstroomskole funksioneer nie, en benodig hulle spesiale onderwys. Tot 50% van hierdie kinders kan verstandelik gestrem wees.
Kinders met Asperger sindroom se simptome is soms so subtiel dat die diagnose aanvanklik misgekyk word. Hulle selfhelpvaardighede is normaal ontwikkel binne die eerste drie lewensjare, hoewel dit soms eksentriek en anders kan voorkom. Hulle kan byvoorbeeld erg omgekrap raak indien hulle skoene se veters nie op hulle eie unieke manier vasgemaak word nie.
Gewoonlik is daar nie drastiese taalagterstande by hierdie kinders nie, en is hulle taal inteendeel goed ontwikkel. Baie van hulle leer praat voor hulle leer loop, of kan een-woord sinnetjies praat op 2-jarige ouderdom en selfs lang sinne met goeie woordeskat toon op 3-jarige ouderdom, iets wat nie by kinders met outisme die geval is nie. Dit is egter wanneer hulle met mense gesels dat probleme voorkom, soos dat hulle nie ander mense spreekbeurte gee nie, of mense in die rede val. Hulle reageer nie op subtiele wenke wat ander mense gee nie, en sal byvoorbeeld nie besef dat ‘n kyk op die horlosie beteken die kuier is nou vir eers verby nie. Hulle sal ook nie altyd besef dat ‘n frons op juffrou se voorkop beteken sy raak nou kwaad nie. Hulle verstaan nie altyd hoekom dit belangrik is om die onderwerp van ‘n gesprek na ‘n nuwe onderwerp te verander nie en sal aanhou gesels oor hulle eie belangstellingsarea.
Kinders met Asperger sindroom is geneig om teruggetrokke tussen maats te wees en sal soms verkies om met ouer maats of volwassenes vriende te maak. Alhoewel hulle sosiaal alleen kinders is, toon hulle wel belangstelling in ander mense, is bewus van mense om hulle en het intens behoefte aan vriendskappe. Wanneer hulle wel uitreik na ander mense is dit op koddige of eksentrieke wyse, en baie van hulle maak gewoonlik min of glad nie oogkontak nie.
Hulle vriendskappe hou nie omdat hulle nie altyd die gevoelens of behoeftes van ander mense verstaan of in ag neem nie. Hulle kan betroubare en lojale vriende wees vir mense met wie hulle wel verhoudings opbou. Hulle is geneig om op hulle eie, weg van hulle maats af te speel.
Kinders met Asperger sindroom het gewoonlik gemiddeld tot bogemiddelde intelligensievermoëns. Hierdie kinders ondervind wel leerprobleme, maar dit is nie so ernstig soos in die geval van kinders met outisme nie. Kinders met Asperger sindroom is geneig om kwaad te word indien hulle nie kan klaarmaak waarmee hulle begin het nie, en hulle word maklik omgekrap indien hulle roetine verander word of daar nie aan hulle verwagtinge voldoen word nie.
Hulle het gewoonlik ‘n beperkte hoeveelheid belangstellings, maar sal groot hoeveelhede feitelike kennis en informasie oor hierdie belangstellingsveld bymekaarmaak. Hulle beskik dikwels oor ongewoon baie kennis oor hierdie onderwerpe waarin hulle belangstel. Kinders met Asperger sindroom kan dikwels in hoofstroomskole onderrig ontvang en sommige mense met Asperger sindroom beoefen selfs professionele beroepe as akteurs, geneeshere, wetenskaplikes, publieke sprekers, informasietegnoloë, politici, en kunstenaars. Die beroepe waarin hulle uitblink betrek veral hulle unieke belangstellings, sterkpunte en talente.