Kindersielkundige
in Nelspruit

Kontak my:

082 686 7955

“Winning starts with beginning” is iets waaroor motiveringsskrywer John Mason baie te sê het. Ek deel graag van Mason se idees met jou:

Elke nuwe ding op aarde het met ‘n klein stappie begin. Mason sê dat niks wat groot en noemenswaardig is sommer net eendag ontstaan het nie. Nee, iemand het iewers ‘n idee gehad en met klein-begin-stappe daardie idee of droom laat vorm kry. In klein dingetjies wag soms groot geleenthede om ontdek te word. Klein dingetjies maak ‘n groot verskil en daarom is dit so belangrik om in die klein dingetjies jou bes te gee en ‘n sukses daarvan te maak. Die enigste verskil tussen mense wat iewers in die lewe kom en mense wat nêrens kom nie, is dat mense wat iewers kom klein geleenthede aangryp en selfs die onmoontlike probeer.

Stel jou geloof in werking juis wanneer dit makliker sou wees om te twyfel. Glo in dit waarvoor jy hoop. Hoop op dit wat jy nog nie kan sien of ervaar nie maar so graag wil hê. Dit waarin jy glo gaan die rigting bepaal van daardie eerste klein treetjie wat jy gee en mag dalk net nuwe sin en betekenis in jou eie en in ander se lewens bring. “What you believe doesn’t amount to very much unless it causes you to wake up from your dream and start working.”

En wanneer jy struikel en jou nerwe afval, moenie sommer net opgee nie. Vernon Sanders sê: “Experience is a hard teacher because she gives the test first, the lessons afterwards.” Elke keer wat jy weer ‘n treetjie gee in die rigting van jou drome, in die rigting van die verskil wat jy graag in die samelewing wil maak, doen jy meer kosbare ondervinding op. Mense wat sukses behaal staan net nog een keer op nadat hulle weer geval het. Komaan! Staan op, jy kan! Jou drome sal nie doodgaan omdat jy misluk het nie maar dit sal doodgaan omdat jy nie net nog een keer weer probeer het nie. Mason sê: “99 percent of success is built on former failure. …Success is failure turned inside out.”

Zig Ziglar het gesê: “You’ll always have everything in life that you want if you’ll help enough other people get what they want.” Suksesvolle mense is mense wat wegkyk van hulleself en ander mense se behoeftes raaksien en planne maak om dit te help vervul. “Before looking for a way to get, look for a way to give.”

Lees gerus meer oor Mason se idees in: MASON, J. 2009. You can do it – even when others say you can’t. Spire : USA.