Kindersielkundige
in Nelspruit

Kontak my:

082 686 7955

Kan ek ‘n impak maak op my kind se toekoms? Waar en hoe gaan my kind eendag finansiële sukses en stabiliteit bereik? Wat kan ek as ouer doen om my kind met die nodige vaardighede toe te rus om sukses in sy toekoms te behaal?

Groot besighede is vandag op soek na jongmense wat kreatiewe innoveerders kan wees, kreatief en krities kan dink en wat oor vaardighede beskik om problem op te los. Hulle verwys na “‘n nuwe manier van dink en doen”. Verby is die dae wat die werkgewer die werk uitdink en die werknemer die take bloot moet uitvoer.

Indien jongmense suksesvol in die besigheidswêreld wil wees, moet hulle oor die vermoë beskik om die behoeftes van diegene rondom hulle raak te sien, innoverend te raak en maniere te vind om in daardie behoeftes te voorsien.

Maar hoe kan ‘n kind die behoeftes van ander mense rondom hom raaksien en in ag neem as hy nooit geleer het dat die wêreld nie net om hom alleen draai nie? Met ander woorde, het jou kind geleer om om ander se behoeftes bo sy eie te stel? Het jou kind al agtergekom dat sy optrede reaksies by ander mense uitlok en dat sy optrede ‘n effek op sy omgewing het? Dit beteken dat jou kind iets moet leer aangaande die neem van selfbeheer, nie net oor sy eie gedrag nie, maar ook oor sy gedagtes en gevoelens.

Gesels mens met groot besighede, hoor jy dat die jongmense wat suksesvol in die besigheidswêreld is, jongmense is wat geleer het om verantwoordelikheid vir hulle eie gedagtes, gevoelens en optrede te aanvaar. Suksesvolle jongmense het geleer dat hulle elke dag besluite moet neem en dan verantwoordelikheid vir daardie keuses moet aanvaar. Hulle het ook geleer dat hulle nie ander mense kan blameer vir dit wat verkeerd gaan in hulle lewens nie. Hierdie jongmense besef dat hulle bewustelik die ontwerpers van hulle eie lewens is. Hulle is bewus daarvan dat hulle in hulleself mag glo en hulleself as’t ware toestemming mag gee om die beste te wees wat hulle kan wees.

Hoe leer ek as ouer dan my kind om te dink soos suksesvolle mense dink? Net soos almal van ons, beland suksesvolle mense in situasies waar hulle dink: “Ek weet nie hoe om hierdie taak te verrig nie”, of “Ek sal nooit so goed kan wees soos so en so nie.” Die verskil tussen suksesvolle en onsuksesvolle mense is dat onsuksesvolle mense die saak net hier gewonne gee. Suksesvolle mense gaan ‘n stap verder en dink: “Dan moet ek so gou moontlik leer om hierdie taak te bemeester”, of “Ek moet alles in my vermoë doen om hierdie vaardighede na te vors, of aan te leer. Ek moet tot aksie oorgaan en myself bemagtig.” Om hierdie rede moet jy as ouer nie al die probleme waarmee jou kind worstel vir hom oplos nie, maar hom aanmoedig om self verskillende probleemoplossingsvaardighede aan te leer en self by oplossings uit te kom. Laat jou kind toe om soms risiko’s te neem en nuwe vaardighede uit te probeer en aan te leer.

Hoe moet ek as ouer dan teenoor my kind optree om waagmoed in hom te help vestig sodat hy meer innoverend kan raak? Hoe kan ek my kind help om dapper te wees en te waag? Een ding wat ons as ouers nie moet doen nie is om te veel te kritiseer of om oorbeskermend te wees en alles vir my kind te wil doen. Hierdie optrede breek kinders se selfvertroue af en laat hulle onttrek eerder as om te waag. Navorsing het bewys dat die belangrikste behoefte wat elke mens het, die behoefte na positiewe terugvoer of komplimente is. Hier lê die sleutel: Moedig jou kind aan om innoverend te wees, in plaas daarvan om die eindresultaat van sy poging te kritiseer. Wanneer jy die moeite wat ‘n kind insit beloon, ontwikkel jy innerlike motivering in die kind en verhoog die selfvertroue wat hy nodig het om later weer waagmoed aan die dag te lê.

Suksesvolle besighede is ook op soek na jongmense wat oor die vermoë beskik om geleenthede wat aan hulle gebied word raak te sien. Nie net moet hulle oor die vermoë beskik om hierdie geleenthede aan te gryp nie, maar hulle moet ook oor die vermoë beskik om self geleenthede te kan skep deur van hulle eie insigte en vaardighede gebruik te maak. Dit beteken jou kind moet van jongs af leer om in sy eie insigte en vaardighede te glo. Hoe kan ‘n kind in homself glo as hy meestal net negatiewe kritiek of waarskuwings van sy ouers ontvang? Hoe kan my kind in homself glo as ek hom nooit toelaat om sy eie idees lewe te gee nie?

Hier is ‘n paar vrae wat jou as ouer kan help dink oor hoe jy ‘n positiewe impak op jou kind se sukses in die toekoms kan hê:

  • Ÿ·Hoe leer ek my kind om selfbeheer oor sy gevoelens, gedagtes en optrede uit te oefen?
  • Ÿ·Hoe maak ek my kind bewus van ander mense se behoeftes?
  • Ÿ·Hoe help ek my kind om aan innoverende idees te dink om die behoeftes van ander mense te help bevredig?
  • Ÿ·Hoe gesels ek met en reageer ek teenoor my kind wanneer hy of sy wel innoverend raak en nuwe dinge uit probeer?
  • Ÿ·Hoe leer ek my kind om besluite te neem in sy alledaagse lewe?
  • Ÿ·Hoe leer ek my kind om verantwoordelikheid te aanvaar vir die keuses wat hy maak? Weerhou ek dalk my kind daarvan om verantwoordelikheid aan te leer deurdat ek hom “red” wanneer hy verkeerde besluite neem?
  • Ÿ·Hoe maak ek my kind bewus van nuwe geleenthede in sy omgewing en hoe help ek hom of haar om hierdie geleenthede aan te gryp?

U is welkom om ons te kontak. Gaan na ons kontakbesonderhede en stuur vir ons ‘n e-pos.