‘n Sielkundige is iemand wat daarvan hou om ander mense te help om met nuwe idees vorendag te kom om hulle eie lewens meer gelukkig en sinvol te kan maak.
Alle mense is blootgestel aan lekker ervarings in die lewe, en ook die soms minder lekker ervarings wat neig om ‘n mens se lewensbootjie te skud. Dit is dan wanneer jou gevoelens in ‘n warboel raak en jy nie meer weet wat om met die hartseer, kwaad, alleen of bang gevoelens te maak nie. Dit mag wees dat selfs jou liggaam deur gebeure affekteer is en jy dalk nie meer kan lees, hoor, of rondbeweeg soos jy voorheen gewoond was nie. Daar kan ‘n magdom redes wees waarom mense mag sukkel om aandag te gee en te konsentreer en hulle mag selfs vind dat beplanning van dagtake en die alledaagse lewe soms moeilik raak.
Soms raak die storms van die lewe net so oorweldigend dat mense vind hulle begin onttrek en wil ander mense vermy. Sielkundiges is daar om in tye soos hierdie ‘n helpende hand te verleen.
Dalk kan jy onthou hoe dit gevoel het om jou eerste skooldag bang en onseker deur te maak tussen ‘n magdom van vreemde gesigte, geluide en gebeure. Of jy mag onthou hoe jy gevoel het toe jy as tiener nie ingepas het by die res van die groep nie, dalk omdat julle as huisgesin dinge net anders as die res van die maats se ouers gedoen het. En net wanneer jy gewoond geraak het aan die hoërskool, dan is jy weer van voor af vreemd wanneer jy dalk die technicon- of universiteits- of selfs beroepslewe moes betree. Sielkundiges is opgelei om in tye van hierdie veranderings mense by te staan.
Soms is daar soveel konflik in ‘n gesin dat ouers egskeiding as enigste uitweg sien. Lewensmaats en kinders kan dan nie meer tyd saam met mekaar spandeer soos hulle gewoond was nie. In ander gesinne word ‘n ouer of ‘n kind dalk met ‘n terminale siekte, soos kanker, gediagnoseer iets wat drastiese veranderinge vir almal in die gesin meebring. Ander gebeure soos motorongelukke of honde wat mense aanval en byt, kan mense se liggaamlike voorkoms dramaties verander en selfs liggaamsfunksies inperk. Veranderinge soos hierdie veroorsaak dat mense ‘n gevoel van verlies beleef en werklik hartseer (selfs kwaad) kan wees oor wat hulle uiteindelik moes prysgee. Sielkundiges is daar om mense te help om sulke traumatiese gebeure te hanteer.
Sielkundiges is opgelei om mense van alle ouderdomme, van kleuters tot bejaarde mense, te kan bystaan. Vir hulle opleiding studeer hulle aan ‘n universiteit en moet eers ‘n drie-jaar graad kursus voltooi. Daarna moet hulle ‘n bykomende Honneursgraad, asook ‘n Meestersgraad in sielkunde behaal. Hierdie opleiding duur gewoonlik 6 jaar of langer. Hierna mag sielkundiges kies om te spesialiseer in ‘n area waarin hulle belangstel en ‘n bykomende doktersgraad verwerf. Om seker te maak dat sielkundiges altyd die beste belange van mense op die hart dra, moet hulle registreer by die Health Professions’ Council of South Africa (HPCSA).
Daar is baie verskillende soorte sielkundiges, en elke sielkundige het gewoonlik spesifieke areas van belangstellings waarin hulle graag mense help. Mens kry Kliniese Sielkundiges, Bedryfssielkundiges, Opvoedkundige sielkundiges, Voorligtingsielkundiges, Neuro-sielkundiges, Forensiese sielkundiges en Navorsingssielkundiges.
Jy mag enige sielkundige vra waarin hulle graag spesialiseer. Vra gerus of hulle sal kan help met dit waarmee jy probleme ervaar. Enige sielkundige wat voel dat jou probleem buite hulle area van opleiding of belangstellings is, sal jou in kontak kan bring met ander sielkundiges, of ander professionele mense wat jou wel sal kan help.
‘n Mens is ‘n baie spesiale, maar ook uniek gekompliseer wese, en daarom werk sielkundiges saam met ander professionele mense, soos dokters, pediaters, neuroloë, psigiaters, ander sielkundiges, maatskaplike werkers, arbeidsterapeute, spraakterapeute en onderwysers. Al hierdie mense kan baie sinvolle bydraes maak om jou te help om vinniger jou lewensdoelwitte te bereik. Sielkundiges mag ander opgeleide mense vra om hulle met hulle taak te help, soos byvoorbeeld Psigometriste en Sielkundige Beraders.
‘n Psigiater is ‘n mediese dokter wat verder in sielkunde gaan studeer het, daarom word hulle (nie sielkundiges nie) toegelaat om medikasie voor te skryf. Hulle help mense wie se emosionele en gedragsprobleme behandel kan word deur onder andere die neurochemiese faktore met medikasie te hanteer.
Hulle fokus ook op die diagnosering, behandeling en rehabilitering van geestesongesteldhede soos depressie, bi-polêre versteuring, skisofrenie en angsversteurings. Hulle mag ook terapeutiese hulp voorsien en mense deur gespreksvoering of ander werkswyses bystaan.
‘n Psigometris is ‘n persoon wat vir vier jaar aan ‘n universiteit studeer het en beskik oor ‘n Honneursgraad in sielkunde . Hulle is opgelei om sielkundige evaluerings, vraelyste en toetse te doen, onder toesig van ‘n geregistreerde sielkundige. Hulle word nie toegelaat om mense met berading te help nie. Na afloop van hulle opleiding moet Psigometriste by die mediese raad (HPCSA) registreer voordat hulle mag praktiseer.
‘n Sielkundige Berader is ‘n persoon wat vir vier jaar aan ‘n universiteit studeer het en beskik oor ‘n Honneursgraad in sielkunde wat ‘n B-Psig graad genoem word. Deel van hulle opleiding vereis die doen van praktiese werk van ongeveer 750 uur onder toesig en supervisie van ‘n geregistreerde sielkundige. Na afloop van hulle opleiding moet hulle by die mediese raad (HPCSA) registreer voordat hulle mag praktiseer. Hierna mag ‘n Sielkundige Berader mense help binne sy veld van opleiding, steeds onder toesig en supervisie van die geregistreerde sielkundige.
Die publiek mag enige persoon in die sielkunde veld uitvra oor hulle kwalifikasies en areas waarin hulle spesialiseer. Die sielkundge, psigometris, sielkundige berader of ander, mag op hulle beurt weier om hulp te bied in ‘n area waarin hulle voel hulle nie goed genoeg opgelei is nie. Gewoonlik sal hulle mense dan help deur hulle te verwys na kollegas en ander profesionele mense wat wel spesialiseer in daardie betrokke area van nood. Vra gerus.
Recent Comments