Boeliegedrag kan die vorm aanneem van woorde wat gebruik word om iemand anders herhaaldelik mee af te kraak, te kritiseer en seer te maak. Dit kan ‘n fisiese vorm aanneem waar ‘n kind geslaan, geskop of rondgestamp word. ‘n Ander vorm van boeliegedrag is wanneer een persoon ‘n ander persoon aanhoudend en sonder ophou terg . By kinders is die tergery gewoonlik vir beide partye snaaks en dit vind op ‘n spelerige manier plaas. Dit is wanneer een kind aandui dat hy of sy genoeg gehad het en die ander party hou aan met terg dat dit beskryf word as boeliegedrag. Tegnologiese veranderinge bring mee dat boeliegedrag nou ook deur middel van die internet en selfone gebeur.
Gewoonlik is daar drie partye wat by boeliegedrag betrokke is:
1. Die boelie self
Die boelie neem gewoonlik die voortou en sonder ‘n ander persoon uit wie geboelie word. ‘n Boelie is nie noodwendig altyd die groter sterker kind in die groep nie, maar kan selfs klein en tingerig wees. ‘n Boelie streef egter daarna om mag oor ‘n ander kind te verkry omdat dit die boelie beter oor hom of haarself laat voel. Boeliegedrag lok ‘n reaksie by omstanders uit en dit is hierdie ekstra aandag wat ook vir die boelie aanloklik is. Seuns sowel as dogters kan as boelies optree.
2. Die maatjies wat as toeskouers betrokke raak
Boeliegedrag vind nie in isolasie plaas nie. Daar is gewoonlik ‘n klomp toeskouers wat die gebeurtenis aanskou en soms ook aanmoediging gee, asook idees van wat om te doen. Dit is gewoonlik die toeskouers wat opmerkings aan die boelie sal maak soos: “Het jy gesien hoe kyk sy vir jou?” of “Het jy gesien hy groet jou nie?” en dit is hierdie opmerkings wat gewoonlik die boelie tot aksie laat oorgaan. Maatjies wat as toeskouers optree kan ook dieselfde tipe opmerkings maak teenoor die een wat geboelie word en so word ‘n bose kringloop van “wie-doen-wat-aan-wie” aan die gang gesit. Wanneer boeliegedrag in ‘n groep gestop wil word, moet die toeskouers se aandeel in die boeliegedrag ook hanteer word.
3. Die kind wat geboelie word
‘n Kind wat geboelie word voel soms so vernederd en oorweldig deur die situasie dat hy of sy te bang is om daaroor te praat. Dit mag selfs wees dat hierdie kind homself of haarself blameer en dink dat hy of sy iets gedoen het om die boeliegedrag uit te lok. Wanneer die kind probeer om self die boelie te hanteer mag dit selfs die boeliegedrag vererger wat ook meebring dat die kind wat geboelie word nie volwassenes se hulp wil inroep nie.
Boeliegedrag moet ernstig opgeneem word en nie net afgeskryf word as iets wat deel is van kindwees nie. Boeliegedrag beïnvloed kinders se selfbeeld en toekomstige verhoudings. Wanneer boeliegedrag vermoed word behoort volwassenes in te gryp en beide die boelie, toeskouers en die kind wat geboelie word by te staan ten einde die boeliegedrag te stop.
Recent Comments